Sunday, February 27, 2011

‘n Stad in puin, maar nie my geloof nie.


[An English translation is posted as a separate post]

Die volle omvang van die verwoestende aardbewing wat Christchurch op 22 Februarie 2011 getref het, begin stadigaan tot ons deurdring.

Die realiteit van rampe is deel van lewe op aarde. Of dit terreur, oorlog, veldbrand, vloed, sikloon of aardbewing is, dit laat mens met ‘n gevoel van verslaenheid. Bruce Springsteen het ‘n aangrypende song geskryf as huldeblyk na die 911 terreuraanval in New York. Springsteen verwoord mense se smart in die nadraai van die terreur treffend as hy sing,

“My soul is lost, my friend
Tell me how do I begin again?
My city's in ruins
My city's in ruin”

Maar Bruce Springsteen bly nie daar nie. Hy bring hoop as hy mense oproep, “Come on, rise up! Come on, rise up!” Maar in eie krag gaan hulle dit nie maak nie, daarom gaan hy voort om te bid vir krag, vir geloof, vir liefde; hy bid vir hulle wat verlore is; hy bid vir hierdie wêreld. Iemand het hierdie My city of ruins van Springsteen vir Youtube verwerk met aangrypende beeldmateriaal van Christchurch. Luister en kyk gerus.




Hoekom laat God so iets toe?”

Ek weet nie. Niemand weet nie, want hoe sal ‘n nietige mensebrein God kan verklaar? Deur die eeue het gelowiges met God hieroor geworstel. Die Bybelse Job leef min of meer in die tyd van Genesis. Dis heel aan die begin van God se handelinge met die mens. Toe al vra mense die hoekom-vraag. Job se vriende mòès net weet hoekom hy so ly. Hulle bespiegel oor hom. Hulle beskuldig hom. Hulle bestraf hom. Weet jy wat antwoord Job hulle? Al wat Job doen, is om te aanhou glo in God.

“Die Here het gegee, en die Here het geneem:
die Naam van die Here sy geloofd!” (Job 1:21).

“Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom” (Job 13:15).

Dis geloof vir jou! God is goed, Hy is in beheer! Op Hóm vertrou ek, sê Job.

Robin Mark het ‘n treffende song oor hierdie soort geloof geskryf. Hy verklaar,

“All is well with my soul
He is God in control
I know not all His plans
But I know I'm in His hands"

Dit laat my dink aan die groot prediker van ‘n vorige era, Charles Spurgeon, wat ook kon sê, al sien ek nie die hand van die Here nie, dan vertrou ek steeds Sy hart. Hoekom Christchurch in puin lê, weet ek nie. Ek weet dit was ‘n ontsettende aardbewing wat tot in Antarktika ysberge losgeskeur het van die vasteland. Die wetenskap verduidelik die geologie. Dit help bietjie met die verstaan. Die Woord van God wys na die aarde wat steeds uitgelewer is aan die nagevolge van die sondeval millennia gelede, ‘n aarde wat “hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid... Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Rom.8:21-22). Een ding is seker, hierdie aarde word nie ‘n beter plek om op te woon nie. Dis nie regtig slegte nuus nie. Daar wag ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, en wat ons nou beleef is maar die geboortepyne van die nuwe wat gebore word. Christus kom weer. Alles sal nuut wees. “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Openb. 21:4-5).

Intussen kan ons saam met Robin Mark ook onsself in God se hand plaas.



0 comments:

Post a Comment