Vandag plaas ek 'n stukkie wat my vriend, Pastoor Piet Smit van die AGS Corpus Christi-gemeente in Malmesbury geskryf het. Op sy kenmerkende manier dra Piet 'n groot waarheid oor hier.
HIER IS GOD
In die Britse Museum in Engeland is daar ‘n baie ou seevaartkaart van Noord-Amerika se ooskus en die aangrensende see. Dit is geteken deur ‘n onbekende persoon en dateer uit 1525. Dit bevat interessante gegewens wat die kartograaf daarop aangebring het. So het hy die volgende inskripsies gemaak by dié dele wat nog onbekend en nog nie ontdek was in daardie tyd:
- Hier is reuse.
- Hier is gevaarlike skerpioene.
- Hier is drake.
Die kaart het in sy omswerwinge ook in die hande van sir John Franklin beland. Franklin, het al die vrees inboesemmende inskripsies van die eerste kaartmaker deurgekrap en oor die hele kaart geskryf: HIER IS GOD.
Die nuwe jaar lê voor ons uitgestrek soos ‘n stuk onbekende of onontdekte land. Maklik kan mens dieselfde doen as wat eersgenoemde kaarttekenaar gedoen het. Ons kan al die vrese waaraan ons kan dink daaroor neerskryf en in die proses onsself baie swartgallig maak.
Hoeveel keer in die verlede het die goed wat ons gevrees het toe nie gebeur nie. Ons weet nie wat die jaar vir ons inhou nie. Selfs kenners van die ekonomie en die politiek se voorspellings is bloot bespiegelings.
Wat ek wel met groot sekerheid weet, is dat dit nie onbekend by God is nie. Jes. 46:10 sê van die Here: “wat van die begin af verkondig die einde.” Daar is dus geen onbekende terrein in die nuwe jaar vir die Here nie. Hy was dus reeds by elke draai en swaai van die pad wat ek en jy nog moet stap in die jaar. Die Here hou die toekoms en elkeen van ons in Sy hand. Is Hy nie wonderbaar!
Oor die hele nuwe jaar wil ek dan ook skryf soos wat sir John Franklin geskryf het: HIER IS GOD!
GEBED
So wonderlik om te weet, Here, dat daar vir U geen onbekende terrein is wat die nuwe jaar betref nie. Omdat U leef, sien ek kans vir môre! Amen.
Jy kan elke dag 'n opbouende stukkie van Pastoor Piet Smit ontvang. Teken in deur jou besonderhede in te vul onderaan hul webwerf:
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking