Vrydag 25 Desember 2015

Kersgroete


Ek het hierdie vroeër vanjaar in Las Vegas afgeneem


Aan al my vriende, familie, kennisse, enigiemand wat hier lees...

Mag jy 'n baie geseënde Kersfees hê, en mag die liefde wat God aan ons openbaar het met Jesus se geboorte jou lewe vul elke dag wat Hy nog vir jou die voorreg gee om hier op aarde te wees!

Ons het 'n lieflike byeenkoms van Afrikaanse gelowiges hier in New Plymouth, Nieu-Seeland gehad vanoggend met 'n rekordbywoning. Dit was so lekker om ou bekendes en nuwe vriende bymekaar te hê om eer aan Jesus te bring. Dit was ook weer my voorreg om die Woord te bedien aan mense wat dit met oop harte ontvang.

Dankie vir almal wat vir ons bid dat die seën van die Here op ons rus!

Groete uit 'n sonnige New Plymouth!

Francois Bredenkamp

Woensdag 23 Desember 2015

Besoek van die Kelbers

Die afgelope naweek was ek en Bessie bevoorreg om ou vriende by ons aan huis te hê, en saam met ons in die kerk Sondag - Johannes en Charlotte Kelber, en hul dogter, Jeanne Hill en kleinseun, Martin Hill.



Ek en Johannes Kelber kom al baie jare saam. Johannes is een van daardie mense wat 'n hart het wat brand vir die evangelie. Vir meer as 50 jaar was hy in die bediening in die NG Kerk in Afrika, en het hy die evangelie aan die Twanas gebring. Sy passie om die liefde van Jesus met die Tswanas te deel is vandag nog net so 'n sigbaar as wat dit al die jare was, al moes hy uittree uit aktiewe bediening vanweë gesondheidsredes. Charlotte is 'n musiekonderwyseres en was baie jare orreliste in die kerk.

Jeanne was daar die nag amper sewe jaar gelede wat ek die eerste keer op Auckland Lughawe geland het. Ons het mekaar toe nog nooit ontmoet nie, maar haar breë glimlag het haar laat uitstaan uit die massa. Sy en haar man Justin het hul hart en huis vir my oopgemaak en na omtrent twee maande saam met hulle en hul pragtige kinders beskou ek myself as familie.

Een van die dinge wat die Kelbers graag doen, is om saam te sing tot eer van die Here. Sondag in die kerk het hulle vir ons Die Heiland is gebore gesing en 'n Tswanalied. Ek deel dit graag omdat dit vir ons so mooi was. 


Ons het Sondag weer 'n lieflike diens gehad in New Plymouth. Die Here is regtig besig om iets moois te doen, en ons gee Hom al die eer! Jy kan na my boodskap luister en/of die hooftrekke lees by:


http://www.soveelmeer.org/worstelinge-met-die-wil-van-god-lesse-wat-josef-aardse-pa-van-jesus-ons-leer/

Hier is 'n kort aanhaling wat ek in die boodskap gebruik het:



Groete aan al my familie & vriende oral oor die wêreld! Onthou, ek hoor graag van jou. Bid vir ons dat die seën van die Here op ons rus, en laat weet as ek vir jou kan bid!

Francois Bredenkamp
taranakichristen@gmail.com

Maandag 14 Desember 2015

Dankie vir 'n fantastiese naweek!

Baie dankie vir elkeen wat bygedra het om hierdie afgelope naweek so mooi te maak:

Ek het 'n wonderlike verjaarsdag gehad, sommer die hele naweek lank, lieflik afgerond met 'n gesellige kuier na kerk gister, met 'n oorvloed lekker eetgoed en so 'n mooi gesindheid onder mekaar. So 'n gesindheid is goud werd vir enige gemeente.

Vir elkeen wat my geluk gewens het met my verjaarsdag - elke seënwens, sms, elke geskenkie, oproep, Facebook boodskap, ens. 'n Groot dankie, ek voel baie spesiaal!

Ons het gister 'n lieflike oggenddiens gehad. Dis pragtig om deel te wees van 'n dinamiese, groeiende gemeente. Jy kan na my boodskap luister en/of dit aflaai as 'n mp3 by: 

http://www.soveelmeer.org/vandag-kan-die-keerpunt-in-jou-lewe-wees/




Kan ek 'n guns vra: Help my om hierdie boodskap wyd te versprei deur dit te share op jou Timeline en as jy wil, ander sosiale netwerke. Dit gaan nie oor die feit dat dit ek is wat praat nie, maar ek glo baie mense het gister se bemoediging nodig. Net as jy vrymoedigheid het om dit te doen.

Ek groet vir eers.

Geseënde week vir jou!

Francois Bredenkamp
taranakichristen@gmail.com


Saterdag 12 Desember 2015

Dag 11 van dankbaarheid

Vandag sê ek vir die Here Jesus baie dankie vir die voorreg wat ek het om te lewe. Vir baie jare het ek dit as vanselfsprekend aanvaar. Maar soos die jare aanstap, besef mens elke dag is ‘n groot geskenk uit die hand van die Here, soos Jak. 4:15 (1983-vertaling) ons leer, “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen...”



Dankie Here, dat u gewil het dat ek moet lewe. Help my nou om elke dag wat U my gee tot U eer te leef. Dankie vir drome wat ek kan najaag, en vir geleenthede om die drome waar te maak. Dankie vir die gesondheid wat ek het om dit te kan doen. Dankie vir geliefdes wat saam met my die pad loop, sommige van hulle is baie ver, ander weer baie naby. Dis die liefde in hulle harte wat die verskil maak, nie die kilometers tussen ons nie.

En so kom ek aan die einde van my 11 dae van dankbaarheid. Baie dankie vir elkeen wat my geseën het op my verjaarsdag met goeie wense. Ek voel sommer baie geliefd, en dis ‘n goeie begin vir my toekoms wat vandag begin.

Hou gerus hierdie blog dop vir inligting oor projekte waarmee ek besig is. Ek praat binnekort oor die Engelse vertaling van Hoorsels wat feitlik persklaar is, en dan oor die grootste projek wat ek nog aangepak het in my lewe waarmee ek tans besig is....

Onthou my preke word gereeld gelaai op www.soveelmeer.org

Liefde aan almal van julle!

Francois Bredenkamp

taranakichristen@gmail.com

Donderdag 10 Desember 2015

Dag 10 van dankbaarheid

Vandag wil ek vir die Here baie dankie sê vir mense in my lewe wat bereid is om my te help. Ek praat nie van vriende en familie nie. Sommer net mense met wie ek te doen kry in die loop van my alledaagse lewe wat òf self iets vir my doen, òf vir my verwys na iemand wat kan help.

John P. Strelecky, in sy The Big Five for Life, gaan uit van die standpunt dat ‘n mens nie meer as vyf persone weg is van ‘n oplossing van jou probleem nie, ongeag die probleem. Jy moet net vir iemand hulp vra, wat weer iemand ken wat iemand anders ken wat kan help, of wat weer op sy beurt nog iemand anders ken wat weer iemand anders ken wat die antwoord het. Ek hoop daardie sin maak sin. Kortom, iemand ken iemand wat weet hoe om jou te help.

Daar was al in my lewe soveel keer mense wat ‘n groot rol gespeel het, waarskynlik sonder dat hulle dit ooit besef het. En dit moedig my ook aan om so ‘n persoon vir ander mense te wees. As die beker koue water aan ‘n vreemdeling nie ongesiens by die Hemelse Vader verbygaan nie, maar deur Hom beskou te word as iets wat ons vir Hóm doen (Mat. 25:35), dan beteken dit dat alles wat ek vir mense doen, belangrik is. Mag dit nooit wees dat iemand vir my so onbelangrik is dat ek halfhartig die persoon help nie! Dit mag dalk vir my na ‘n klein dingetjie lyk. Dit was die klein dingetjies in die lewe wat groot verskille in my lewe gemaak het.



Vir wie gaan ons volgende die iemand wees met die antwoord?

Môre is die finale dag van my dankbaarheidsreeks. Soos ek aan die begin gesê het, ek wou elke dag in Desember tot met my verjaarsdag elke dag vir die Here dankie sê vir iets spesiaal. Môre kom ek aan die einde, nie van my dankbaarheid nie, maar van my reeks refleksies hieroor.

Ek hoor graag van jou.

Francois Bredenkamp
taranakichristen@gmail.com


Woensdag 09 Desember 2015

Dag 9 van dankbaarheid



Vandag is ek besonder dankbaar vir die plan wat ek weet die Here het met my lewe. 

Elkeen van ons kan gerus maar die woorde van Jer. 1:5 begin glo ook oor ons lewens: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken...” Vir Jeremia het dit beteken hy sou die profeet in diens van die Here wees. Vir elkeen van ons is dit daardie plan wat God vir ons individueel het, waar ons lewenspad insny en saamloop in Sy groter plan vir hierdie wêreld.

Amper sewe jaar gelede het God se plan vir my lewe my na Nieu-Seeland gebring. In my hart was daar die woord waarmee die Here bevestig het dat ek moet immigreer: “Wie is dit wat daar aangevlieg kom? ...Ja, op my wag die eilande” (Jes. 60:8-9). Ek onthou die nag toe ek skuins voor middernag oor Auckland vlieg om my nuwe lewe hier te begin. Tussen die duisende stadsliggies was daar groot swartkolle. Later het ek verstaan die donker kolle is die groot wateropervlaktes (“inland harbours”) wat deur die stad vleg. Daardie nag was die swart kolle vir my ‘n soort weerspieëling van my gemoed. Daar was soveel donker kolle in my toekoms, soveel onsekerheid. Ek het nie geweet of hierdie onderneming gaan werk nie. Ek kom met geen versekering dat ek sal kan bly nie...

So baie het intussen gebeur. God het vir my werk gegee en ek kon ‘n werksvisum kry. My werksvisum het later residensievisum geword. En op 11 November hierdie jaar het ek amptelik ‘n burger van Nieu-Seeland geword. Mense wat nie verstaan hoe senutergend die hele immigrasieproses is nie, sal nie begryp wat dit beteken om uiteindelik burgerskap te ontvang nie.

Hier in Nieu-Seeland het die Here vir my weer ‘n lewensmaat gegee. Wat is die moontlikheid dat twee mense wat altwee 'n geliefde aan die dood moes afstaan in ‘n Engelse land Afrikaanse lewensmaats ontmoet! Hier doen ek ‘n werk wat baie bevredigend is, ek bedien ‘n lieflike Afrikaanse gemeente, en ek woon reg langs ‘n reënwoud, naby die see en aan die voet van 'n dormante vulkaan wat amper heeljaar sneeu op het. Al ons kinders woon in NZ. En ek het twee pragtige kleinkinders.

Niks wat ek tot dusver genoem het, is te danke aan my vindingrykheid nie. Alles wat ek het, is ‘n geskenk uit die Hand van die Here. Dis alles uit genade. Dis hoekom ek so dankbaar is daarvoor.


Dankie, Here Jesus, vir U lieflike plan vir my lewe!

Groete

Francois Bredenkamp

Dinsdag 08 Desember 2015

Dag 8 van dankbaarheid

Vandag sê ek vir die Here Jesus baie dankie vir geleenthede om ‘n verskil in mense se lewe te maak.

Op elkeen van ons se lewenspad loop ons mense raak vir wie ons tot seën kan wees. Die Engels praat van serendipity, daardie skynbare toevallige sameloop van omstandighede wat meebring dat dinge net reg vir jou uitwerk. Vir my as gelowige is daar nie so iets soos toeval nie. Ek glo dat God ‘n mens geleenthede gee om mekaar se lewe te verryk. Dis lekker as mens aan die ontvangkant is. Jesus het ons egter geleer, “Dis saliger om te gee as om te ontvang.” (Hand. 20:35).

Ek is dankbaar vir daardie kere in die verlede wat ek ‘n verskil kon maak in iemand se lewe. Die waarheid is egter dat ‘n mens baie selde weet jy beteken iets vir iemand. Daarom maak dit ‘n mens se hart warm wanneer iemand later vir jou dankie sê. Doen ons dit genoeg teenoor mekaar? Ek glo nie. Nog iets waaraan ek persoonlik sal moet werk, want in my lewe is daar soveel mense wat deur die jare vir my gedra het met hul vriendskap en bystand toe dit regtig saak gemaak het.

Enigiets wat ons vir iemand met ‘n opregte hart doen met die doel om die persoon te help, gaan ‘n verskil maak.


“Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien.” (Hebr.6:10). Ek kan baie name hier noem van mense wat my gedien het deur die jare. Die Here ken jou naam. Hý sal jou beloon. Maar ek sê: Baie dankie!

“Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Kor. 15:58).

‘Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” (Gal. 6:10).

Daarom wil ek elke dag, deur die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van Jesus met mense deel. Dankie vir die voorreg as ek dalk ook vir jou êrens iets kon beteken het. 

Groete uit New Plymouth

Francois Bredenkamp           

Maandag 07 Desember 2015

Dag 7 van dankbaarheid





Vandag sê ek baie dankie vir die Here Jesus vir opregte vriende. Regoor die wêreld is daar mense wat ek as opregte vriende beskou. Ek ken hulle harte, en ons kan openhartig met mekaar gesels oor die seer en stryd van die lewe, asook die vreugdes. Ek kan hulle vertrou. En ek glo hulle weet hulle kan my vertrou. My enigste spyt is dat ons soms ver van mekaar af woon – letterlik regoor die wêreld. Gelukkig maak die moderne tegnologie dit makliker vir ons om te kommunikeer. Tot my skande moet ek erken dat ek té min kontak hou met party van hulle. My fout. Ek vra vergifnis. Ek weet ek moet werk aan ons vriendskappe.

Die teenoorgestelde is ook waar. Nie almal wat voorgee om ware vriende te wees, is eerbaar nie. Dis elke keer vir my ‘n ontnugtering wanneer ek besef iemand wat voorgee om ‘n vriend en broer te wees, is agteraf  besig  om my te ondermyn. “Sy woorde is so glad soos botter, maar sy hart vol oorlog. Sy woorde is strelend soos olie, maar dis soos ‘n ontblote swaard” (Psalm 55:22). Hoe jammer!

Dankie vir elkeen wat ‘n hart van vriendskap teenoor my handhaaf.

Groete uit New Plymouth, NZ

Francois Bredenkamp

Belangrike aankondiging rakende Taranaki Christengemeenskap



Daar sal voortaan elke Sondagoggend ‘n Afrikaanse diens in New Plymouth gehou word, steeds in die Citizen’s Advice Bureau net langs die YMCA in Leachstraat, in plaas van net elke tweede week. Die Here is besig om ons gemeente baie ryklik te seën, en hierdeur kan ons voortbou op die huidige momentum. Ons sal in hierdie stadium nie voortgaan met formele kerkdienste in Stratford nie. Ons bedien steeds ons lidmate in die Stratford omgewing, en tydens ‘n vergadering met hulle gisteraand in Stratford het die meerderheid laat blyk dat hulle steeds deel van Taranaki Christengemeenskap wil bly, en sal inskakel by New Plymouth. Ons stel dit in die vooruitsig om as huiskerke byeen te kom in Stratford, maar wanneer getalle so klein is as wat dit die afgelope paar maande was, is dit net nie geskik om in ‘n onpersoonlike (en baie koue) kerkgebou byeen te kom nie.  

Twee datums wat van belang is:

Ons het op Vrydag, 25 Desember 2015 om 10:00 ‘n Afrikaanse Kersdiens in die Citizen’s Advice Bureau. Ons sal nie op Sondag, 27 Desember 2015 ‘n diens hê nie.

Almal is baie welkom om ons byeenkomste by te woon. Veral ons Kersdiens beloof om iets besonders te wees.

Ons kinderkerk vind plaas hoofsaaklik in Engels, hoewel ons mooi omsien na die kleintjies wat nog nie gemaklik is in Engels nie.

Vir meer inligting, kontak gerus vir my by 0211473674, of na-ure by 7519252.

Francois Bredenkamp

taranakichristen@gmail.com

Sondag 06 Desember 2015

Dag 6 van dankbaarheid






Vandag sê ek vir die Here Jesus baie dankie vir ons gemeente hier in New Plymouth. 4½ jaar gelede het ons in Stratford begin met Afrikaanse dienste, waaruit ons gemeente in New Plymouth ontstaan het. Vandag het ons ‘n pragtige stabiele gemeente, en ek het die voorreg om my bediening in Afrikaans uit te leef hier in Nieu-Seeland. Wie sou kon dink! Ek is dankbaar vir elkeen wat so pragtig saam met my en Bessie staan sodat ons gemeente ‘n verskil in die Afrikaanse gemeenskap kan maak. Vanoggend het ons weer ‘n lieflike diens gehad, en ek kon met vrymoedigheid deel wat ek glo die Here op my hart gelê het. Die Here het vir ons wonderlike mense bygevoeg so met verloop van tyd, en dis ‘n belewenis om as gemeente elke week byeen te kom. Al die eer aan die Here vir Sy kerk.


Hier is ons treffende logo:




Groete uit New Plymouth, NZ

Francois Bredenkamp


NS Baie dankie vir al die mooi kommentaar op my blog. Onthou, daar is audiopreke en skakels na van my preke op YouTube beskikbaar by: 

www.soveelmeer.org


Saterdag 05 Desember 2015

Dag 5 van dankbaarheid

Uitsig voor ons huis

Vandag sê ek dankie vir die Here Jesus vir die voorreg om te woon in New Plymouth, Taranaki.

Ons woon in 'n pragtige huis so 15 km buite die dorp. Voor ons lê padddocks met 'n onbelemmerde uitsig oor 80 km se kuslyn. Agter ons is dit natuurlike reënwoud, net 'n paar treë van ons agterdeur, met 'n pragtige riviertjie, boomvarings wat meer as twee verdiepings die lug in reik, met 'n wandelpaadjie deur digte plantegroei. Dis letterlik ongerepte natuur. Ek gaan haal soms potplantgrond uit die woud. As 'n mens verby die komposryke bolaag grawe, dan kom jy by vulkaniese as-grond, onaangeraak sedert Taranaki ontstaan het na 'n vulkaniese uitbarsting wie weet hoe lank gelede. Woorde ontbreek om te verduidelik hoe mooi ons omgewing is. Foto's kan nooit reg laat geskied aan die skoonheid van ons natuur nie. Maar ek plaas 'n paar foto's net om te wys hoe goed die Here vir ons is. Ek kan net sê, die Here is goed vir ons!


Back Beach, New Plymouth


Oakura Beach, ons naaste strand

Op Oakura Beach


Back Beach op 'n reënerige dag

Sonsondergang, Back Beach


Pukeite Park, naby ons huis


Reëwoud1

Reëwoud2


Nou kan julle sien hoekom ons so dankbaar is!

Groete

Francois Bredenkamp

Vrydag 04 Desember 2015

Dag 4 van dankbaarheid






Vandag sê ek vir die Here Jesus baie dankie vir die geleentheid wat ek gehad om 'n studietoer na die VSA te onderneem. Ek het 'n konferensie bygewoon oor The role of the church in mental health, aangebied by Saddleback Church in Orange County, suid van Los Angeles.


Saddleback Church


Ek dink nie ek het al ooit in my hele lewe soveel gebaat by 'n konferensie nie. Daar was verskillende aanbiedings, en ek het die Child & Adolescent Mental Health aanbiedings bygewoon, en soveel geleer. Té veel om hier op te noem, maar wat ek kan sê, is dat my idees oor hoe om kinders met geestesprobleme te parent ingrypend verander het. Ek is besig om die nuwe insigte te verwerk in 'n boek wat ek tans skryf oor 'Parenting the difficult-to-parent child'. Watch this space! Terwyl ek in die VSA was, het ek 'n bietjie wyer  getoer. Ek plaas 'n paar foto's met groot dank aan die Here Jesus vir die geleentheid.





Stratosphere Hotel, Las Vegas



Yosemite Park




Golden Gate Brug, San Francisko




Grand canyon



Groete

Francois Bredenkamp

Donderdag 03 Desember 2015

Dag 3 van Dankbaarheid




Vandag sê ek vir die Here Jesus baie dankie vir geleenthede wat ek het om te groei en te ontwikkel:

Ek sit vandag in 'n seminaar oor self-harm onder tieners (ek het geen idee wat self-harm in Afrikaans is nie; miskien kan iemand my inlig). Dis 'n fantastiese leerervaring wat aan my gebied word om myself beter te bekwaam om mense te kan help. Ek het hierdie jaar wat verby is soveel sulke geleenthede gehad. Ek praat anderdag meer daaroor, oor 'n konferensie wat ek in die VSA kon gaan bywoon, en my eerste jaar aan die Universiteit van Auckland waar ek 'n nagraadse kursus doen in Child & Adolescent Mental Health. 

As jy goed is in jou werk, gaan jy opgang maak.

Hoekom is dit belangrik om verder te studeer, kursusse en seminare by te woon, en doelbewus besig te wees met verrykende aktiwiteite? Spreuke 22:29 NLV sê, "Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie." Baie mense kla oor daar geen bevorderingsmoontlikhede vir hulle is in hul werk nie. My raad vir hulle is, as dit enigsins moontlik is, doen iets om jou kennis en vaardighede te verbeter. Die Bybel leer ons duidelik, as ons goed is in ons werk, kan ons vir die koning werk, m.a.w. kan ons verwag om opgang te maak in ons loopbaan. Verryk jouself. Neem jy verantwoordelikheid vir jou eie selfverbetering. Ek weet dis nie altyd moontlik om uit te breek uit die groef nie, maar baie mense kan dit doen, maar hulle is té bang hulle misluk, of hulle wil nie die belegging maak in terme van tyd en geld en moeite nie, of hulle is so gemagsugtig... totdat herstrukturing plaasvind en hulle vind dat hulle nie hulself kan bemark nie want hulle het nie bygebly met die nuutste ontwikkelings, kennis en tegnologie nie.


Wat kan jy doen sodat jou werkgewer jou nie sal wil verloor nie, omdat jy die een is by die werk met die nuuste kennis? Werk aan jou beroep, jy bestee immers baie ure elke week by die werk.

Groete uit New Plymouth, NZ

Francois Bredenkamp



Woensdag 02 Desember 2015

Dag 2 van Dankbaarheid

Vandag wil ek die Here dank vir my werk.






Ek het die geleentheid om te werk met kinders en jongmense wat geestesongesteldhede (mental health issues) ervaar. Ek dank vandag die Here Jesus dat ek werk het, en dat ek geniet wat ek doen. Dis belangrik dat 'n mens 'n werk doen wat vir jou lekker is, want dit neem so 'n groot deel van ons lewe in beslag. Vir baie mense is werk 'n las. God sien werk anders. Hy het bepaal dat 'n mens sal werk - ses dae moet jy arbei en al jou werk doen... (Ex. 20:9). Dis nie sy wil dat ons net vakansie hou nie, maar dat ons produktief sal wees en 'n aanwins vir die wêreld. Ons doen ons dagtaak vir Hom: "Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie." (Efe. 6:7 NLV). So maak ons 'n verskil in die wêreld tot eer van die Here.

Die foto hierbo het ek vanoggend gou geneem reg voor my kantoorvenster. Wie sou kon dink dat strelitsias so mooi groei in NZ! En iets moois om na te kyk terwyl ek werk.

Dankie vir die mooi wense na gister se blog. Dit maak dit sommer nog 'n groter vreugde om aan te gaan! 

Jongste preek op REIK NA MEER:

 Luister gerus na my boodskap op YouTube "My naam sal voortleef in mense se hart." ‘n Mens se waarde vir ander mense word gemeet aan wat jy vir hulle beteken. In hierdie boodskap leer ons hoekom dit so belangrik is om met ons goeie werke 'n positiewe verskil in mense se lewens te maak.

https://www.youtube.com/watch?v=neXlG3GG0iM

Of luister/lees by:

 http://www.soveelmeer.org/my-naam-sal-voortleef-in-mense-se-harte/















Groete uit New Plymouth, NZ

Francois Bredenkamp

taranakichristen@gmail.com

Dinsdag 01 Desember 2015

Taranakichristen Herleef

Vandag begin ek opnuut met my blog: Taranakichristen. Ek het die meeste van die vorige materiaal afgehaal. Ek beoog om hierdie blog voortaan baie meer persoonlik te maak. Daar is soveel pragtige dinge in my lewe aan die gang, en ek wil dit graag deel met enigiemand wat belangstel. 

Ek begin deur vir die volgende 11 dae - dis tot met my verjaarsdag - elke dag vir die Here Jesus dankie te sê vir iets spesiaal in my lewe. 


DAG 1 VAN DANKBAARHEID

In Jesaja 58:9 (Nuwe Lewende Vertaling) lees ons, "Wanneer jy dan roep om hulp, sal die Here antwoord. Jy sal roep om hulp en Hy sal sê: Hier is Ek!" Vandag wil ek vir die Here Jesus sê: Baie dankie dat U daar was vir my in hierdie jaar. Daar was baie moeilike tye, maar u genade was altyd groter as die onsekerhede, dit was sterker as die uitdagings, en u genade het my lewe baie meer opwindend gemaak as ooit tevore! 



MY ANDER BLOG: REIK NA MEER! www.soveelmeer.org


Ek stel steeds audio-opnames van my preke beskikbaar. Dit word op my ander blog, Reik na meer, geplaas. Die hooftrekke van elke preek word ook gegee, en soms brei ek meer uit. 

Iets oor my laaste boodskap:

My naam sal voortleef in mense se harte...

Die geskiedenis is vol name van mense wat belangrik was op hul dag. Vandag is hulle onbekend. Wie het al, byvoorbeeld, gehoor van Porphyrius? Hy leef om en by 600n.C. Gebore in Libië, grootgeword in Konstantinopel. Hy verwerf beroemdheid vir sy vaardigheid in perd-en-strydwa resies. In die fleur van sy lewe het tot 250 000 mense na die hippodrome gestroom, dis die resiesbaan waar hierdie resies plaasgevind het. Hy was die naam op elkeen se lippe. Maar Porphirius se lewe het net om homself gedraai, en sewe monumente ten spyt, vandag praat seker net ek van hom, en wel omdat hy so onbelangrik is.

'n Minecraft uitbeelding van 'n hippodrome

Jou lewe, daarenteen, kan 'n verskil maak waar dit saak maak, met gevolge wat nie net tot ander mense se voordeel strek nie, maar tot in ewigheid vir jou van waarde gaan wees. 

In my boodskap hieroor leer ons meer. Luister gerus by:



Die boodskap is ook op YouTube beskikbaar:


Dis wat ek vandag op die hart het. My gebed vir jou is dat die Here Jesus ook kans sal hê om aan jou Sy liefde bekend te maak!
















Groete uit New Plymouth, Nieu-Seeland!


Francois Bredenkamp
taranakichristen@gmail.com