Vandag wil
ek vir die Here baie dankie sê vir mense in my lewe wat bereid is om my te
help. Ek praat nie van vriende en familie nie. Sommer net mense met wie ek te
doen kry in die loop van my alledaagse lewe wat òf self iets vir my doen, òf
vir my verwys na iemand wat kan help.
John P.
Strelecky, in sy The Big Five for Life,
gaan uit van die standpunt dat ‘n mens nie meer as vyf persone weg is van ‘n
oplossing van jou probleem nie, ongeag die probleem. Jy moet net vir iemand
hulp vra, wat weer iemand ken wat iemand anders ken wat kan help, of wat weer
op sy beurt nog iemand anders ken wat weer iemand anders ken wat die antwoord
het. Ek hoop daardie sin maak sin. Kortom, iemand ken iemand wat weet hoe om
jou te help.
Daar was
al in my lewe soveel keer mense wat ‘n groot rol gespeel het, waarskynlik
sonder dat hulle dit ooit besef het. En dit moedig my ook aan om so ‘n persoon
vir ander mense te wees. As die beker koue water aan ‘n vreemdeling nie ongesiens
by die Hemelse Vader verbygaan nie, maar deur Hom beskou te word as iets wat
ons vir Hóm doen (Mat. 25:35), dan beteken dit dat alles wat ek vir mense doen, belangrik is. Mag dit nooit wees dat iemand vir my so onbelangrik is dat ek
halfhartig die persoon help nie! Dit mag dalk vir my na ‘n klein dingetjie lyk.
Dit was die klein dingetjies in die lewe wat groot verskille in my lewe gemaak
het.
Vir wie
gaan ons volgende die iemand wees met die antwoord?
Môre is die
finale dag van my dankbaarheidsreeks. Soos ek aan die begin gesê het, ek wou
elke dag in Desember tot met my verjaarsdag elke dag vir die Here dankie sê vir
iets spesiaal. Môre kom ek aan die einde, nie van my dankbaarheid nie, maar van
my reeks refleksies hieroor.
Ek hoor
graag van jou.
Francois
Bredenkamp
taranakichristen@gmail.com
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking