Woensdag 09 Desember 2015

Dag 9 van dankbaarheid



Vandag is ek besonder dankbaar vir die plan wat ek weet die Here het met my lewe. 

Elkeen van ons kan gerus maar die woorde van Jer. 1:5 begin glo ook oor ons lewens: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken...” Vir Jeremia het dit beteken hy sou die profeet in diens van die Here wees. Vir elkeen van ons is dit daardie plan wat God vir ons individueel het, waar ons lewenspad insny en saamloop in Sy groter plan vir hierdie wêreld.

Amper sewe jaar gelede het God se plan vir my lewe my na Nieu-Seeland gebring. In my hart was daar die woord waarmee die Here bevestig het dat ek moet immigreer: “Wie is dit wat daar aangevlieg kom? ...Ja, op my wag die eilande” (Jes. 60:8-9). Ek onthou die nag toe ek skuins voor middernag oor Auckland vlieg om my nuwe lewe hier te begin. Tussen die duisende stadsliggies was daar groot swartkolle. Later het ek verstaan die donker kolle is die groot wateropervlaktes (“inland harbours”) wat deur die stad vleg. Daardie nag was die swart kolle vir my ‘n soort weerspieëling van my gemoed. Daar was soveel donker kolle in my toekoms, soveel onsekerheid. Ek het nie geweet of hierdie onderneming gaan werk nie. Ek kom met geen versekering dat ek sal kan bly nie...

So baie het intussen gebeur. God het vir my werk gegee en ek kon ‘n werksvisum kry. My werksvisum het later residensievisum geword. En op 11 November hierdie jaar het ek amptelik ‘n burger van Nieu-Seeland geword. Mense wat nie verstaan hoe senutergend die hele immigrasieproses is nie, sal nie begryp wat dit beteken om uiteindelik burgerskap te ontvang nie.

Hier in Nieu-Seeland het die Here vir my weer ‘n lewensmaat gegee. Wat is die moontlikheid dat twee mense wat altwee 'n geliefde aan die dood moes afstaan in ‘n Engelse land Afrikaanse lewensmaats ontmoet! Hier doen ek ‘n werk wat baie bevredigend is, ek bedien ‘n lieflike Afrikaanse gemeente, en ek woon reg langs ‘n reënwoud, naby die see en aan die voet van 'n dormante vulkaan wat amper heeljaar sneeu op het. Al ons kinders woon in NZ. En ek het twee pragtige kleinkinders.

Niks wat ek tot dusver genoem het, is te danke aan my vindingrykheid nie. Alles wat ek het, is ‘n geskenk uit die Hand van die Here. Dis alles uit genade. Dis hoekom ek so dankbaar is daarvoor.


Dankie, Here Jesus, vir U lieflike plan vir my lewe!

Groete

Francois Bredenkamp

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking