Vandag sê ek vir die Here Jesus baie dankie vir geleenthede wat ek
het om te groei en te ontwikkel:
Ek sit vandag in 'n seminaar oor self-harm
onder tieners (ek het geen idee wat self-harm in Afrikaans is nie; miskien kan
iemand my inlig). Dis 'n fantastiese leerervaring wat aan my gebied word om
myself beter te bekwaam om mense te kan help. Ek het hierdie jaar wat verby is
soveel sulke geleenthede gehad. Ek praat anderdag meer daaroor, oor 'n
konferensie wat ek in die VSA kon gaan bywoon, en my eerste jaar aan die
Universiteit van Auckland waar ek 'n nagraadse kursus doen in Child & Adolescent
Mental Health.
As jy goed is in jou werk, gaan jy opgang maak.
Hoekom is dit belangrik om verder te
studeer, kursusse en seminare by te woon, en doelbewus besig te wees met
verrykende aktiwiteite? Spreuke 22:29 NLV sê, "Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings
en nie vir gewone mense nie." Baie mense kla oor daar geen
bevorderingsmoontlikhede vir hulle is in hul werk nie. My raad vir hulle is, as
dit enigsins moontlik is, doen iets om jou kennis en vaardighede te verbeter.
Die Bybel leer ons duidelik, as ons goed is in ons werk, kan ons vir die koning
werk, m.a.w. kan ons verwag om opgang te maak in ons loopbaan. Verryk jouself. Neem jy verantwoordelikheid vir jou eie selfverbetering. Ek
weet dis nie altyd moontlik om uit te breek uit die groef nie, maar baie mense
kan dit doen, maar hulle is té bang hulle misluk, of hulle wil nie die
belegging maak in terme van tyd en geld en moeite nie, of hulle is so
gemagsugtig... totdat herstrukturing plaasvind en hulle vind dat hulle nie
hulself kan bemark nie want hulle het nie bygebly met die nuutste
ontwikkelings, kennis en tegnologie nie.
Wat kan jy doen sodat jou werkgewer jou nie sal wil verloor nie,
omdat jy die een is by die werk met die nuuste kennis? Werk aan jou beroep, jy bestee immers baie ure elke week by die werk.
Groete uit New Plymouth, NZ
Francois Bredenkamp
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking